Daniel Smit, die man van Klawer wat aangekla is van die moord op die tiener Jerobejin van Wyk, wag steeds vir ’n bed by die Valkenberg- psigiatriese hospitaal. Volgende maand sal ‘n jaar wees sedert Jerobejin se dood.
Daar word beweer dat Van Wyk en ‘n vriend mango’s in Smit se erf gepluk het en Smit hulle gesien het. Smit het Jerobejin na bewering in sy voertuig agternagesit, hom omgery en toe in die voertuig ingetrek.
Luidens ’n Cape Times-berig het Smit die tiener na bewering teruggeneem na sy huis, waar hy hom kos en iets te drinke gegee het voordat hy “sy nek gebreek het”.
Eric Ntabazalila, provinsiale woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, het Dinsdag gesê Smit is tans nommer 36 op die waglys vir psigiatriese evaluasie.
“Die volgende hofdatum is 30 Januarie 2023.”
Benewens moordaanklagte, staan Smit, wat sy borgtogaansoek laat vaar het, tereg op aanklagte van ontvoering, aanranding met die doel om ernstig te beseer en regsverydeling.
Bronne: IOL, EWN
Lees ook: Klawer-moordenaar glo in hospitaal na hongerstaking



