Kapt. Sean Russel (47) wat ‘n toetsvlieënier vir Sling is en Dane Anthony Fourie (35), ‘n fotograaf, is dood toe ‘n ligte vliegtuig, waarin hulle Maandag 2 Januarie 2023 gevlieg het, om ongeveer 18:10 in die Bass-meer, Henley-on-Klip neergestort het.
Die twee mans watvin die Sling 2-vliegtuig by dieTedderfield-lughawe in Gauteng opgestyg het, het beplan om weer daar te land. Hul vliegtuig het egter neergestort toe hulle oor die Bass-meer gevlieg het.
Ooggetuies het vertel dat die vliegtuig laag gedaal het toe dit oor die suid-westelike wal gevlieg het en laag bly vlieg het oor die water, waarna dit skerp gestyg, gestol en uit die lug geval het.
Die vliegtuig het twee keer aan die water geraak (gehop) voor dit tot op die bodem van die meer gesink het.
Daar word vermoed dat die regterkantste vlerk tydens impak afgebreek het. Die meeste skade is aan die voorkant van die vliegtuig aangerig.
Owerhede wat op die toneel was, sluit Midvaal-brandweer, NSRI, ER24, asook ‘n honde-en-duikeenheid van die polisie in.
Die liggame van die twee mans is Maandagaand om ongeveer 20:30 uit die meer gebring.
Die vliegtuig is vanoggend met ‘n hyskraan uit die meer gehaal.
Sisa Majola, die woordvoerder vir die Burgerlugvaartowerheid, het die ongeluk aan Vaalweekblad bevestig.
Omstandighede rondom die vliegongeluk word ondersoek om vas te stel hoe dit gebeur het. Majola verwag dat ‘n verslag reeds binne ‘n maand beskikbaar kan wees.
Bron: Vaalweekblad
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



