Twee mans, Moegamat “Gammie” Arnhuizen en Garath “Baker” Cochrane, het op 28 Desember in die Wynberg-landdroshof verskyn vir poging tot moord nadat hulle glo Kersdag ‘n familie in Sesdelaan met ‘n hond en vuurwapen aangeval het.
Kol. Dawood Lain, stasiebevelvoerder van Grassy Park-polisiestasie, sê die twee is glo lede van die Six Bobs-bende.
Na bewering was daar ‘n argument tussen twee vroue. Dit het geëskaleer toe hulle kêrels betrokke geraak het en een die bendelede daar aangebring het.
Cochrane het glo op die familie begin skiet terwyl Arnhuizen ‘n pitbull terriër aangehits het om hulle aan te val. Gevolglik het die hond glo een van die kêrels en ‘n 15-jarige seun gebyt.
Een van die vroue is glo met ‘n baksteen teen die kop gegooi. Die een vrou op wie na bewering geskiet is, kon weghardloop sonder dat sy raakgeskiet was. Die vrou, kêrel en seun wat tydens die insident beseer is, is in die hospitaal behandel.
Die verdagtes is nie lank na die voorval nie, in dieselfde straat in hegtenis geneem.
Nadat hulle Woensdag in die Wynberg-landdroshof verskyn het, sal hulle nog Nuwejaar in Pollsmoor-gevangenis deurbring tot wanneer die saak weer op 4 Januarie 2023 voorkom.
Bron: Daily Voice
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



