Man sterf toe kragopwekker tydens beurtkrag ontplof

Deel hierdie storie / Share this story

Pieter Redelinghuys van Klerksdorp het op 29 Desember in die Life Anncron-hospitaal gesterf nadat ‘n kragopwekker op 27 Desember ontplof het. Hy het tussen 70 en 80% brandwonde opgedoen.

Na bewering het Klerksdorp die middag van die voorval beurtkrag gehad. Die kragopwekker wat in ‘n Wendyhuis wat agter in die erf geleë is aan was, het blykbaar snaakse geluide gemaak, waarna Pieter ondersoek ingestel het. Die kragopwekker het ontplof toe hy binne-in die Wendyhuis was.

Hy was die heeltyd tydens sy hospitalisasie in die intensiewesorgeenheid gesedeer.

Op 28 Desember kon Redelinghuys weens onstabiele bloeddruk en nierversaking nie teater toe gaan om sy brandwonde te laat behandel nie. Later die oggend het ‘n dokter aan sy familie gesê dat sy bloeddruk steeds ‘n probleem is en sy hart swaarkry, alhoewel hy op maksimum medikasie was.

Op 29 Desember was sy toestand steeds onveranderd, onstabiel en kritiek.

Sy eerste kleindogter, Ivanke, is Woensdag gebore.

Hemelse Pêrels NPC het gister op hul sosiale media aangekondig dat Pieter die 29ste oorlede is.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.