Weerlig tref gesin se voertuig

Deel hierdie storie / Share this story

Coroline, Marius en Carlie Lessingh van Vanderbijlpark se voertuig het verlede Sondag tot stilstand gekom toe hul motor, ‘n Mahindra Xylo, deur weerlig getref is.

Die gesin het van Welkom waar hul besoek gaan aflê het, terug na Vanderijlpark gereis toe die ondenkbare gebeur het.

Ongeveer 30 km voor Kroonstad het ‘n weerligstraal wat hulle as “blougeel” beskryf, hulle geslaan. Die straal het hul voertuig getref wat dadelik krag verloor het. Marius kon van die pad aftrek. Die voertuig se alarm het afgegaan, sodat dit ontkoppel moes word.

Hul voertuig het die bewyse oorgehou met drie brandkolle in die voorruit, waarvan een so groot soos ‘n R5-muntstuk was.

Die gesin, hoewel geskok, is nie self deur die weerlig getref nie.

Hul versekeraar het die voertuig ingeleep na Welkom waarna hy Maandag na ‘n paneelklopper in die Vaaldriehoek sou gaan. Caroline se broer het van Vanderbijlpark gery om tot hul redding te kom.

Daar is bevind dat die weerlig wat die voertuig getref het die kragboks en elektroniese stelsel vernietig het.

Die gesin gaan glo tot in Januarie moet wag om te hoor of hul voertuig herstel kan word en of dit afgeskryf gaan word.

Bron: Vaalweekblad

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.