Kyk: Boervrou met panga aangeval, vermeende aanvaller aangekeer

Deel hierdie storie / Share this story

Nie vir sensitiewe lesers nie!

Lorraine Prinsloo (56) van die plaas Blombos, Elandsdoorn, op die Denniltonpad in Groblersdal, Limpopo is Vrydag 23 Desember deur ‘n vermeende aanvaller oorval en met ‘n panga aangerand. Die voorval is op kamera vasgevang.

Prinsloo is ernstig beseer toe die booswig haar met ‘n panga oor die kop en hande gekap het.

Na bewering het die verdagte, geklee in ‘n balaklawa en handskoene, ‘n gat in ‘n heining geknip en eers sy kans by die Prinsloo-seun se huis gewaag het waar hy glo met ‘n saag rondgesluip het. Hy het die hond op die erf met ‘n kettie geskiet om hom te verwilder. ‘n Alarm het op die perseel afgegaan waarna Prinsloo se man, Michael, hom na die perseel gehaas het om ondersoek in te stel.

Met Michael Prinsloo wat op pad was, het die verdagte die hasepad gekies en reguit na die huis gegaan waar die slagoffer was, haar oorval en met ‘n panga aangerand.

Prinsloo het egter teruggeveg en omdat die vermeende verdagte op kontant en skoene aangedring het, het sy hom na hul slaapkamer geneem waar sy haar man wat nog nie terug was nie se tekkies saam met haar beursie aangebied het. Die tekkies is summier deur die ontevrede verdagte by ‘n venster uitgesmyt.

Toe hy haar weer na die voorste gedeelte van die huis wou forseer, het die moedige boervrou hom by die kamerdeur uitgestamp en die deur tussen hulle gesluit. Alleen in die kamer kon sy radiokontak met haar man en die gemeenskap maak en vir hulp vra.

Haar man het haar te hulp gesnel en WIPS (Wildlife Investigation and Protection Services) en boere van die omgewing wat op Prinsloo se noodroep reageer het, het later die vermeende verdagte aangekeer.

Die slagoffer is eers by die plaaslike hospitaal op Groblersdal behandel voordat sy na die Midmed-hospitaal in Middelburg oorgeplaas is.

Bronne: Middelburg Observer en Citizen

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.