Haylee Williams (32) en haar seun Taahid (17 mnde.) is dood nadat hulle in die vroeë oggendure van Woensdag 21 Desember in 14de Straat, Kukutown- informele nedersetting in hul huis doodgebrand het.
Joseph Swartbooi, polisiewoorvoerder, sê Kensington-polisie was op die toneel. Die liggame van ‘n vrou en babaseun is gevind. Hulle is op die toneel dood verklaar. ‘n Geregtelike doodsondersoek is geregistreer.
Enigiemand wat Kensington-polisie kan bystaan in die ondersoek kan met hulle kontak maak.
Na bewering het die brand voor 03:00 onstaan. Omstanders het glo probeer om die ma en baba te bevry, maar hulle kon nie inkom nie omdat sy die deur gesluit het. Sy kon ook nie tot by die deur kom om oop te sluit nie, want hulle was deur die brand vasgekeer.
Cheslyn Steenberg, Kensington GPF-voorsitter sê sy het vermoedelik vetkoek gemaak voor beurtkrag begin het en toe vergeet om die stoof af te sit. Die brand het vermoedelik ontstaan toe die krag weer aangekom het.
Jermaine Carelse, woordvoerder vir brandweer-en-redding, het bevestig dat die ma en seun tydens die brand dood is en dat die brandweer die brand teen 04:30 reeds geblus het. Hy het ook gesê die oorsaak van die brand is nog onbekend, maar die toneel is aan die polisie oorhandig vir verdere ondersoek.
Bron: Daily Voice
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



