Vrugtekoek – Resep

Deel hierdie storie / Share this story

Wat is die feesseisoen sonder ‘n smullekker, klam vrugtekoek? Marlene Schoeman deel dié week met ons ‘n resep vir die perfekte vrugtekoek waarmee jy jou geliefdes dié Kerstyd kan bederf.

Bestanddele:

1 kg droë kerskoek-vrugtemengsel (rosyne, sultanas en lemoenskil)
250 g gekapte neute
250 g versuikerde kersies
250 g gesnipperde dadels
2 t koeksoda
500 g botter/margarien
12 groot eiers
5 k koekmeel
2 k suiker
1 e gemengde speserye
1 t sout

Metode:

Meng droëvrugte en neute en gooi 1 k brandewyn of sjerrie oor en los oornag om te trek.

Neem gesnipperde dadels en 3/4 koppie water en kook in kastrolletjie. Sodra dit kookpunt bereik, haal van hitte af en gooi die 2 t koeksoda by, laat staan om heeltemal af te koel.

Meng botter, eiers en suiker.

Voeg meel, sout en gemengde speserye by.

Voeg die dadelmengsel by en klits deeglik.

Voeg laaste die vrugte-en-brandewynmengsel by.

Neem drie middelslag panne, spuit en voer dit uit met bakpapier.

Bak vir omtrent 1 uur teen 140 °C.

Stel oondtemperatuur dan af na 120 °C vir nog ‘n halfuur.

Toets of dit gaar is met toetspennetjie, anders kan dit langer ingehou word. Oonde se hitte verskil.

Sodra dit uit die oond kom, kan daar genoeg brandewyn of sjerrie oorgesprinkel word terwyl dit nog in die panne is.

Laat afkoel in die panne voor jy uithaal.

Jy kan die volgende dag weer brandewyn oorgooi indien jy die koek natter wil hê.

Versier soos verkies. (Ek hou daarvan om koek te smeer met appelkooskonfyt, oor te trek met marsepein en dan met fondant.)

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel