‘n Bejaarde egpaar is glo Saterdag ontvoer toe hulle besig was om blomme te pluk.
Volgens die polisieverklaring was die egpaar besig om blomme naby Grootbaai in die Wes-Kaap te pluk toe hulle deur ‘n man en vrou met messe genader is. Hulle is glo aangesê om al hul besittings te oorhanding waarna die bejaarde man gesê het sy selfoon is by die huis.
Die aanvallers het die bejaarders daarna glo in hul motor gedwing en met hulle na hul huis in ‘n kompleks in Parklands gery. Die veiligheidswag het egter besef daar is onbekende mense in die motor en het met hulle probeer gesels.
Die bejaarde man het toe geskree dat hulle ontvoer is, waarna die ontvoerder die motor na wat verneem word in trurat gesit het en met hul weggejaag het. Die wag het die polisie gebel.
Die egpaar is na verskeie banke in Delft geneem om geld te trek, maar die banke was toe.
Hulle is toe na die Parow-winkelsentrum geneem en dis hier waar die polisie die motor herken het.
Luidens ‘n verklaring van die Tableview-gemeenskapspolisiëringforum is ‘n 34-jarige man en 26-jarige vrou in hegtenis geneem.
Hulle het Maandag in die hof verskyn op aanklag van ontvoering en diefstal van ‘n motorvoertuig.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



