Vragmotorbestuurder ontvoer, twee verdagtes in hegtenis

Deel hierdie storie / Share this story

‘n Vragmotorbestuurder (42) is vroeër die week in Komatipoort ontvoer en weer gered nadat twee verdagtes glo R50 000 vir sy vrylating geëis het.

Brig. Selvy Mohlala, polisiewoordvoerder, sê die vragmotorbestuurder is Donderdag 15 Desember omstreeks 03:00 die oggend naby die Libombo-grens ontvoer.

Die Zimbabwiese man het glo onder ‘n brug in Komatipoort gestop om te gaan kos koop, en toe hy na die vragmotor terugkeer, het die gewapende verdagtes hom voorgekeer.

Die verdagtes het hom glo tot in die bosse forseer en ‘n bedrag van R50 000 van sy werkgewer geëis vir sy vrylating.

Verskeie spanne het ingestaan om die vragmotorbestuurder te red. Die verdagtes is voorgekeer en in hegtenis geneem. Die polisie het ook vier selfone, ‘n groot bedrag geld en twee messe in die verdagtes se besit gevind.

Die verdagtes sal na verwagting Maandag in die Komatipoort-landdroshof verskyn op aanklagte van ontvoering en die besit van vermoedelik gesteelde goedere.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel