Vermiste vrou se onthoofde liggaam in lykshuis gekry

Deel hierdie storie / Share this story

Die liggaam van die vermiste Khanyisile Mashego (50) is glo Donderdag onthoof by ‘n Brakpan-lykshuis gevind.

Na bewering het Mashego voor haar verdwyning ‘n oproep ontvang van iemand wat aangehou het om haar te sien. Sy is die laaste keer gesien waar sy met haar silwer BMW 3-reeks gery het.

Haar kop is glo in Zonkizizwe gevind ná haar verdwyning van Dalpark 1-landgoed op 10 Desember.

Volgens die wykspatrolleerdervereniging se Monde Ntebe was daar bewerings dat Mashego ‘n hoëprofielgetuie was in ‘n grondbedrogsaak waarby werknemers van die Sentrum van Uitnemendheid betrokke was.

“Ons wil die saak na beide die Valke en die NVG neem om te verseker dat die saak ondersoek word en die oorblywende getuies dringend in die getuiebeskermingsprogram ingesluit word.”

Ntebe het gesê die dossier het aanvanklik vermis geraak, wat beteken daar was ongerymdhede in die ondersoek van die saak.

“Ons doen dus ‘n beroep op die Ipid-direkteur om ‘n ondersoek na die saak te begin.

“Ons sal dit waardeer as daar ‘n ondersoek oor hierdie grondbedrogspul begin en vasstel in watter mate dit die werkmag van die metro en politici bereik het.

“Die familie het gepraat oor grond in meer as drie gebiede in Ekurhuleni wat op bedrieglike wyse verkoop word.”

Ntebe het gesê die ondersoekbeampte het aan die familie gesê dat hy oproepe ontvang het van mense wat losprysgeld eis en sê die oorledene is met mensehandel na Kenia verhandel.

Nkebe het gesê ‘n saak van moord is by die Brakpan-polisiestasie geopen.

Intussen het Gauteng se MMC vir Gemeenskapsveiligheid, Khathutshelo Rasilingwane en EMPD-polisiehoof, Isaac Mapiyeye, Woensdag die Mashego-familie in Dalpark besoek om ondersteuning te bied nog voor berig is dat haar lyk gevind is.