Kevin Soal glo laksman-styl geskiet na geld uit rekening onttrek is

Deel hierdie storie / Share this story

Kevin Soal (68) wat Woensdagmiddag vermis geraak het nadat hy vir die laaste keer by sy woning naby Grand Central Airport in Midrand gesien is, is later dood gevind.

Volgens Mike Bolhuis, van Specialised Security Services, wat om ongeveer 20:30 deur Soal se dogter gekontak is vir hulp, is sy voertuig, ‘n wit Mercedes Benz, glo om ongeveer 16:00 in Tembisa by ‘n tavern genaamd Mike’s Place gevind.

Sy selfoon was ongeveer ‘n uur later, om ongeveer 17:00, in die industriële gebied van Clayville gevind.

Jong sokkerspelers het glo skote gehoor en het die polisie gekontak.

Om ongeveer 18:15 is ‘n liggaam naby Olifantsfontein ontdek wat eers later as dié van Soal geïdentifiseer is.

In hierdie tyd is eers R250 000 en weer R100 000 vanuit Soal se rekening onttrek en oorgeplaas.

Sokkerspelers het ‘n wit Quatum-bus met ‘n plakker wat sê “STAFF” op die toneel geïdentifiseer.

Binne ‘n uur was die polisie glo weer in kennis gestel van meer skote wat afgevuur was in dieselfde area.

Nog ‘n liggaam, waarvan geen besonderhede beskikbaar is nie, is na bewering gevind.

Bolhuis sê Soal is teen sy wil aangehou terwyl die verdagtes probeer het om geld uit hom te kry.

Hy is na ‘n afgeleë area geneem waar hy glo gedwing was om op sy knieë te staan, vorentoe te kyk en twee keer laksman-styl in die kop geskiet is.

Bolhuis het simpatie met sy gesin betoon en R50 000 as beloning aangekondig vir die suksesvolle arrestasie, vervolging en vonnisoplegging van die verdagtes in die saak.

Olifantsfontein-polisie ondersoek die moordsaak MAS 97/12/2022.

Enigiemand met inligting kan s.sers. Manzini kontak by +27 68 152 918

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.