‘n Pa (38) het op Woensdag 14 Desember as ‘n held gesterf nadat hy sy seun (11) by Glenmore-strand aan die suidkus van KwaZulu-Natal uit die see wou red.
Om ongeveer 14:30 is die NSRI Port Edward-span, wat aan diens was, uitgeroep na ‘n berig vam verdrinkings.
NSRI-reddingsboot Spirit of Surfski 7 is uitgestuur, terwyl ‘n NSRI-reddingsvoertuig saam met die polisie en Netcare 911 na die toneel is. Met aankoms op die toneel is vasgestel dat vyf omstanders ‘n pa en seun uit die branders gered het. Die seun was glo in ‘n stroom vasgevang en sy pa het hom te hulp gesnel.
Gert du Plessis, NSRI-stasiebevelvoerder op Port Edward, sê alhoewel die omstanders KPR op die pa toegepas het, was dit nie suksesvol nie en is hy deur paramedici op die toneel dood verklaar.
Die seun is op die toneel behandel en is deur Netcare911 in ‘n ernstige maar stabiele toestand na ‘n hospitaal geneem en verwag om volkome te herstel.
‘n Geregtelike doodsondersoek is deur die polisie wat op die toneel was, geopen.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



