Owerhede op soek na pa wat seun (8) laat bestuur

Deel hierdie storie / Share this story

FiND iT het gister berig oor ‘n seun (8) wat ‘n voertuig op ‘n openbare pad in Roshnee, Vereeniging bestuur. Die video was wyd op sosiale media gedeel.

Yusuf Abramjee en die ander blaaie waarop die video geplaas was, het padverkeersagentskappe “getag.”

Xolani Fihla, woordvoerder van JMPD (Johannesburg-metropolisiedepartement) het intussen gesê dat die ouer van enige kind wat op ‘n openbare pad bestuur, vervolg sal word.

“Kinders tussen die ouderdomme van 8 en 14 jaar is veronderstel om nie bewustelik oortredings te pleeg nie, en ‘n hof sal gewoonlik net die ouer vervolg.”

Dit beteken dat die kind nog nie toerekeningsvatbaar is nie. Eers van die ouderdom van 14 jaar af word kinders as vermoedelik toerekeningsvatbaar geag.

Fihla het verder gesê dat ‘n kind onder die ouderdom van 10 jaar nie in hegtenis geneem kan word nie.

“Dit beteken ‘n kind onder 10 jaar het nie kriminele hoedanigheid nie en kan nie vir ‘n misdryf aangekla of in hegtenis geneem word nie. In so ‘n geval sal die kind na die Kinderhof verwys word.”

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.