‘n Roofslagoffer en sy vermeende rower is vroeg Sondagoggend dood nadat ‘n motorvoertuig op die M41 in Umhlanga, KwaZulu Natal oor hulle gery het.
Reaction Unit South Africa is om ongeveer 01:41 deur verbygaande motoriste in kennis gestel van die voorval dat hulp benodig word omdat verskeie voertuie reeds oor ‘n voetganger gery het.
Met die aankoms van die beamptes op die toneel het hulle twee liggame ongeveer 30 meter van mekaar af gevind. ‘n Omstander het verduidelik dat een van die oorledenes sy vriend is en dat hulle van ‘n jaareindfunksie in Umhlanga op pad huis toe was.
Hulle is afgelaai nadat hulle voertuig meganiese probleme ondervind het. Vier verdagtes het hulle genader en probeer om hulle te beroof. Hulle het in verskillende rigtings gevlug. Die verdagtes het glo agter hulle aangehardloop en dit is toe dat sy vriend en die verdagte wat agter hom aan was, beide raakgery is.
Verskeie motors het agterna bo-oor die beseerdes gery.
Die polisie ondersoek die voorval.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



