Vermeende motordief aangekeer in inwoner se bed

Deel hierdie storie / Share this story
Fotokrediet Mi7

‘n Vermeende motordief, ongeveer 26 jaar oud, wat gewapen was, is Donderdagoggend vroeg in die bed van ‘n inwoner van Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal aangekeer.

Colin David, direkteur vir die Mi7 National Group, sê hulle beheerkamer is om ongeveer 03:00 deur ‘n inwoner van Adamsstraat, Hayfields, gekontak wat sy splinternuwe Toyota Fortuner as gesteel aangemeld het.

Mi7 het dadelik gewapende reaksie-eenhede na die adres gestuur waar verdere inligting van die eienaar van die voertuig bekom is.

Reaksiebeamptes is gevra om op die uitkyk vir die gesteelde voertuig te wees, waarna ‘n Mi7-reaksiebeampte, wat besig was met roetinepatrollie in Bisley, minute later ‘n voertuig met die beskrywing opgemerk en dit gevolg het.

‘n Hoëspoed jaagtog het gevolg, waartydens die vermeende verdagtes verskeie verkeerswette oortree het deur verkeersligte te verontagsaam en roekeloos te bestuur. Die verdagtes het die reaksiebeamptes ontglip.

Die eenhede van Mi7 wat reeds in die omgewing was, het ‘n strategiese plan in aksie gestel deur ‘n sirkelformasie om die area se in en-uitgange waar die voertuig die laaste keer gesien was, af te kordon, en sodoende nader te beweeg.

Wakker reaksiebeamptes het die voertuig, waar hy in ‘n pikdonker straat gestaan het, aan sy agterligte raakgesien.

Die beamptes het die gesteelde voertuig met die verdagtes binne-in te voet genader, toe die verdagtes skielik op hulle begin skiet het terwyl hulle in verskillende rigtings probeer vlug het.

‘n Oor en-weer skietery het ontstaan waarna een verdagte in die been gewond is.

Die beseerde verdagte het toe glo ‘n woning genader en vir hulp gevra.

Dit was nie lank voordat reaksiebeamptes die verdagte by die huis opgespoor het nie, waar hy glo in ‘n bed gelê en voorgegee het dat hy slaap. Hy is in hegtenis geneem en deur medici geëvalueer voordat hy aan die polisie oorhandig is.

Die vuurwapen van die verdagte is later binne-in ‘n mangat gevind. Die gesteelde voertuig, wat reeds aan die binnekant gedeeltelik uitmekaar gehaal is, is herwin.

Volgens Mi7 is daar ‘n tendens van onlangse kapings en diefstalle van sportnutsvoertuie en bakkies in die omgewing van Pietermaritzburg.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.