Speurder los 15 jaar oue huisbraaksaak op

Deel hierdie storie / Share this story

Speurder Nduli van Villieria-polisiestasie in die Moot van Pretoria is deur Willie Spies, voltydse regsverteenwoordiger by AfriForum, vir sy diens geprys.

Hierdie speurder wat slegs op “cold cases” by Villieria-polisiestasie werk se stiptelikheid, vriendelikheid, werksetiek en diens het beïndruk nadat hy ‘n verdagte wat 15 jaar gelede by Spies se huis ingebreek het, opgespoor het.

Spies het ses dae gelede die plasing op sy Facebook-blad gemaak van hoe verras hy is in dié tyd dat daar soveel negatiwiteit oor die polisie gespreek en ervaar word.

Kyk ‘n mens na die feite van die plasing, kan jy nie anders as om te voel dat hierdie welverdiende pluimpie die speurder toekom nie.

Die verdagte, wat reeds vonnisse uitdien in die tronk. is deur speurder Nduli deur middel van vingerafdrukke op die toneel verbind.

Lees die volledige plasing van Spies hier:

“Oor die algemeen is ons maar skepties oor die polisie en oor hoe hulle hul werk doen, maar gister het ek ‘n verrassende ervaring gehad met die Villieria-polisiestasie, wat ek graag deel.

Ek was op pad huis toe vanaf Johannesburg toe daar ‘n vreemde inkomende oproep kom, terwyl ek met ‘n ander oproep besig was. “Villieria Police Station” wys die True Caller-funksie op my foon, maar die ander oproep kry nie klaar nie en teen die tyd dat ek die ander oproep klaar het, is die een weg.

My kop werk nietemin oortyd om te probeer dink waarom die polisie my soek…

‘n Paar minute later lui Sandri se foon. “Yes, he is with me in the car”, sê sy en gee vir my die foon. Ek praat en die stem aan die ander kant stel homself voor as “Detective Nduli”.

“I have good and bad news for you, Sir!” Die goeie nuus is dat ‘n verdagte in ‘n huisbraak by my huis vasgetrek is en die slegte nuus is dat ek die stasie moet besoek om ‘n opvolgverklaring te maak, sodat die verdagte aangekla kan word.

So teen 15:30 stap ek by die polisiekantoor in en die personeel groet vriendelik. “I am here to see Detective Nduli”. Pas het ek sy naam genoem of hy staan daar, vriendelik en met die polisiedossier onder sy arm. “You are on time, Sir. Let’s do the statement”.

Eers toe ek die verklaring sien, tref die verrassende nuus my. Die polisiedossier is 15 jaar oud. In 2007 is daar by ons huis in Starkeylaan, Waverley ingebreek en onder andere ‘n beursie en ‘n kamera gesteel. Die inbreker het toegang deur my kombuisvenster gekry en op die vensterbank was ‘n leë wynbottel met ‘n gedroogde blom in. Die inbreker moes die wynbottel uit die pad skuif om deur die venster te kon klouter en die polisie se vingerafdrukdeskundiges het ‘n duidelike vingerafdruk daarop gekry.

Die verdagte is intussen in hegtenis geneem vir ‘n veelvoud van ander huisbrake en dien reeds ‘n 5 jaar vonnis daarvoor uit. Die polisie se register van vingerafdrukke het tegnologie wat voorvalle met mekaar kan verbind op grond van ooreenstemmende rekords van ander onopgeloste sake. Daardie tegnologie het die verdagte verbind met die misdaadtoneel in my huis, 15 jaar gelede.

“It is a cold case”, noem ek vir Speurder Nduli. “Yes Sir, I only do cold cases”, antwoord hy trots. Ons groet en gaan uitmekaar. Daar moet nog baie gebeur. DIe aanklaer moet sy werk doen. Die landdros moet sy werk doen en die verdagte moet nog skuldig bevind word, maar ek is daar weg met die wete dat ons wel goeie mense in ons land het wat nog elke dag goeie diens lewer.”

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.