Hoërskool Riebeeckrand in Randfontein, Gauteng het ‘n voorlopige verklaring vrygestel nadat drie van sy leerlinge in die bestek van twee weke selfdood gepleeg het.
Kearabetswe Ledima was in graad 8 en Schalk Groenewald in graad 11 toe hulle in die week van 18 November oorlede is. Leandri Herbst (15) was die volgende leerling wat haar eie lewe geneem het.
Die skool plaas klem daarop dat hulle ‘n streng boeliebeleid in plek het en dat leerders bewus is hoe om gevalle deur die nodige stappe te rapporteer. Voorts sê die skool dat daar altyd ‘n berader tot leerlinge se beskikking is, maar dat nie alle leerlinge oor probleme praat nie.
“Die drie gevalle is onafhanklik van mekaar.”
Volgens die skool word die gevalle ondersoek en geen boelie-verwantheid kon tot dusver vasgestel word nie. Die skool sê dat een van die leerders se ouers reeds op Facebook ‘n plasing gemaak het dat hul kind se geval nie as gevolg van boelies was nie.
Maandag 28 November het ‘n gedenkdiens ter nagedagtenis van Kearabetswe Ledima en Schalk Groenewald by die skool plaasgevind.
Leandri se roudiens sal op Vrydag 2 Desember om 12:00 vanuit die AGS Randgate-kerk plaasvind en die skool se gedenkdiens sal op 6 Desember om 09:00 gehou word.
Na die gedenkdiens van Kearabetswe en Schalk het die skool begin met ‘n “Kneel for 10”-inisiatief waar daar vir die volgende 10 dae elke dag om 10:00 vir Hoerskool Riebeeckstad, sy leerders en personeel gebid sal word. Die Randfontein-gemeenskap is genooi om mee te doen.
Devon Hofmeyr van die Bittereinders en openbare figuur het die drie leerlinge se selfdood as gevolg van boelies by die skool op sy Facebook-blad bevestig en veroordeel.
Leandri Herbst se geval het Hofmeyr diep geraak omdat sy by hom gestaan het met ‘n geleentheid wat by Hoerskool Jan Viljoen plaasgevind het.
“Ons het baie vrae en min antwoorde.”
Hofmeyr se hy en die Bittereinders sal saam met Leandri se familie staan in hierdie moeilike tyd om antwoorde te kry oor haar en die ander leerlinge se selfdood.
“Dit is tyd dat hierdie “Anti-Bullying” organisasies wat der duisende rande uit die publiek uit melk deur ‘n emosionele benadering met mense te hê hulle vingers uit hulle gatte uittrek en by die regte mense en skole uitkom. Ons verloor ons kinders op strepe!” het Devon Hofmeyr op Facebook gesê.
Hofmeyr het gisteraand op sy Facebook-blad gesê:
“Na aanleiding van AfriNuus se berig oor my bewerings dat sekere leeders selfmoord gepleeg het rakende boelies in hulle skool wil ek dit duidelik maak dat daar ongelooflik baie infomasie gedeel word tussen mense. Informasie wat sensitief is en ‘n lang pad gaan vat om uit te klaar.
Ek het vandag in aanraking gekom met die regspan van Hoërskool Riebeeckrand en ons sal vroeg volgende week om die tafel met alle partye sit rakende hierdie situasie.
Ek wil dit ook duidelik maak dat hierdie ‘n sensitiewe saak vir my ook is. Ek kan ook nie meer verder toelaat dat ons ons kinders op sinnelose maniere verloor nie. Ongeag die situasie of rede. Ek salueer ook vir Annelize van den Berg, die skoolhoof van Riebeeckrand, asook hulle regspan vir hulle puik werk en bystand aan almal wat hierdie moeilike tyd moet deurgaan.
Hierdie is ‘n stryd wat ek sal aanpak tot die bittereinde toe. Hierdie is ‘n geleentheid vir hande vat, saamwerk en op die beste oplossings moontlik kom.
Ek is hier om te doen wat reg is. Ons kinders en hulle welstand sal eerste prioriteit wees.
Teen 22:00 vanaand 30 November 2022 sal ek die sterkste regspan by mekaar geslaan hê om dié ONDERWYSERS, landswyd, wat voel dat hulle die volle reg het om ons kinders sielkundig en emosioneel te beskadig, in die openbaar te bring. Gevolg met regstappe.
Ek nooi ieder en elk wat ‘n slagoffer is, of was, van so onderwyser, om die Bittereinders en sy regspan te kontak.
Ek sal ook hande vat met politikusse wat hulself na vore gebring het en bereid is om ons by te staam hierin.”
Devon Hofmeyr

Indien jy of enigeen wat jy ken hulp nodig het oor selfdoodgedagtes, skakel die Suicide Crisis Helpline by 0800 12 13 14.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



