‘n Vrou van Texas wat meer as 50 jaar gelede as baba ontvoer is, is nou te danke aan ‘n DNA-toets weer met haar familie herenig.
Melissa Highsmith was maar 22 maande oud in 1971 toe haar oppasser haar by haar ouers se woonstel in Fort Worth ontvoer het.
Alta Apanteco, Highsmith se ma, het destyds as ‘n kelnerin gewerk en het in ‘n plaaslike koerant gevra vir ‘n oppasser vir haar dogter. Apanteco het die vrou aangestel om na haar dogter te kyk sonder om haar eers te ontmoet, en so is haar dogter ontvoer. Apanteco en haar man, Jeffrie Highsmith, het dekades lank saam met bekommerde familielede na hulle dogtertjie gesoek en ‘n Facebook-blad, Finding Melissa, is ook op die been gebring.
Plaaslike owerhede het Apanteco selfs daarvan beskuldig dat sy haar dogter vermoor het.
Nadat ‘n ginekoloog ‘n voorstel gemaak het dat die familie ‘n DNA-toets van Ancestry en 23andMe gebruik om hulle dogter te probeer opspoor, was daar uiteindelik ‘n deurbraak. Die DNS-toetse is vir enigiemand beskikbaar.
“Elke keer was my ma vol hoop. Na 51 jaar wou sy nie nog ‘n DNA-toets laat doen nie. Sy was moeg en sy was seergemaak,” het Victoria Highsmith, Melissa se suster gesê. “Ons is dankbaar dat ons haar kon oortuig om haar DNA in te dien, want dis as gevolg daarvan dat ons Melissa kon kry.”
Victoria sê dat hulle Melissa nie deur haar eie DNA opgespoor het nie, maar deur ‘n DNA-passing met dié van haar kinders. Drie weke later is die ouers met hulle dogter, nou 53, herenig.
“Ek kon nie ophou huil nie. Ek was so bly en dit voel steeds asof ek op die wolke loop soos wat ek probeer verstaan dat my sussie reg voor my is en dat ons haar gekry het.”

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



