Wat dryf jou tiener tot selfdood?

Deel hierdie storie / Share this story

Selfdood neem reeds toe en Desember het nog nie eens aangebreek nie. Met ‘n toename in selfdood in die laaste jaar, bespreek Juanita Ragbeer van TherapyNow wat dit is wat mense dryf om hulle lewens te beëindig en hoe jy as vriend of familielid kan help.

Juanita, ‘n geregistreerde berader wat spesialiseer in traumaberading, sê veral tienerselfdood het toegeneem, selfs onder kinders so jonk as 13 jaar. “Dis die hartseerste ding ooit. Wanneer jy saam met die ouers werk, is die gevoel van hopeloosheid en totale verwoesting duidelik.”

Die redes vir ‘n tiener se selfdood of selfdoodpoging kan kompleks wees. Tieners met geestesgesondheidsprobleme het ‘n groter risiko vir selfdoodgedagtes. Hulle gaan deur ‘n oorgangstydperk in hul lewe terwyl hulle steeds probeer om hul identiteit te vind.

‘n Groter risiko vir selfdood bestaan as kinders ‘n sielkundige versteuring het, benoud voel, gevoelens van hopeloosheid ervaar, ‘n familiegeskiedenis van selfdood het, slagoffers is van mishandeling, sosiale isolasie ondervind en geen ondersteuningsnetwerk het nie.

Waarskuwingstekens kan voorkom wanneer ‘n tiener selfdood oorweeg. Dit vind dikwels plaas na stresvolle lewensgebeurtenisse in ‘n tiener se lewe.

’n Tiener wat selfdood oorweeg, het dalk selfdoodgedagtes, praat daaroor om “nie meer lank hier te wees nie”, sal terugtrek van geliefdes, skryf oor die dood en verlies, hul gunstelingbesittings aan geliefdes gee, ophou om deel te neem aan aktiwiteite wat hulle eens geniet het, probleme ervaar om te konsentreer, begin deelneem aan impulsiewe of gevaarlike gedrag en belangstelling in akademie verloor.

Ouers moet bewus wees van die waarskuwingstekens en dit nie as “aandagsoekende gedrag” afmaak nie. Wees daar vir jou tiener wat dalk geïsoleerd is en gedragsveranderinge ervaar. Kommunikeer met jou tiener oor hoe hulle voel sodat hulle ondersteun en geliefd voel. Jou besorgdheid wys jou tiener dat hy of sy nie alleen is nie en hulle gevoelens nie geïgnoreer word nie. As jou tiener weier om oop te maak, stel dan ‘n sessie met ‘n geestesgesondheidswerker voor sodat hulle die nodige ondersteuning kan ontvang.

Dit kan skrikwekkend wees om hulp te moet soek. Jy is bang om geoordeel te word, want daar is ongelukkig steeds ‘n stigma verbonde daaraan om hulp te soek. Jy het NOU hulp nodig. By TherapyNow kan jy ‘n berader van jou keuse via WhatsApp, Skype, of telefonies kontak – hulp vir JOU. Besoek therapynow.co.za vir meer inligting.

Alternatiewelik, sluit aan by ons aktiewe aanlyn forums waar jy kan gesels met ander wat dalk op dieselfde manier as jy sukkel – alles anoniem. Gaan na healforhope.com om te registreer.