Dit kan soms ‘n uitdaging wees om jou kinders tydens die vakansietyd besig te hou. Hier is ‘n paar idees vir vet pret – nie net vir die kinders nie, vir jou ook!
Maak jou eie speletjies
Kry ’n voorraad velle gekleurde kartonpapier, skêre vir kinders, gom en enigiets anders wat jy gaan nodig hê om ’n paar prettige speletjies te maak. Speletjies soos Hoopla, Pin the Tail on the donkey of Snakes and ladders kan maklik tuis gemaak word, dit sal die kinders lank besig hou.
Kook en bak
Beplan een keer per week ’n kook- of bakdag. Betrek die kinders van die begin af by die proses – laat hulle kies uit ’n verskeidenheid resepte waarvoor jy bestanddele het. As die kind kan lees, laat hulle die resep uit die resepteboek lees. Help hulle stap vir stap om die instruksies deur te werk. Probeer die versoeking vermy om dit self te doen.
Bou ‘n hindernisbaan in die agtertuin
Ou stukke hout, bokse, emmers, tuinstoele – alles waaroor, onder of rondom gespring kan word. Sê vir die kinders om mekaar se tyd te neem rondom die hindernisbaan. Die baan kan voltooi word op ’n fiets, skaatsplank of bloot deur te hardloop.
Plant ’n tuintjie
Gee ’n klein stukkie van die tuin vir die kinders. Plant blomme, kruie, blaarslaai – alles wat vinnig groei en die bevrediging gee dat hulle sukses behaal het.
Gaan kamp
Bou ’n tent binne of buite met komberse en lakens. Sodra die tent opgeslaan is, gee hulle ’n flitslig en ’n piekniekmandjie om saam te neem.
Hou ’n skattejag
Maak ’n skatkaart met leidrade om ’n skat te vind wat jy êrens in die tuin weggesteek het. Dit hoef nie duur of groot te wees nie – enige klein skat sal opwindend wees as dit buite gevind word.
Maak musiek
Gryp ’n paar musiekinstrumente – dinge soos bongo’s, gonsers of tamboeryne en maak musiek. Laat jou kinders saam sing en dans.
Stap in die natuur
Onderneem wandelings in die natuur. Versamel skulpe en klippe op die strand om later ’n dopkasteel en klipbeeldhouwerke te maak. Laat kinders verskillende soorte goggas, plante of bome in die bos soek. Gee hulle alternatiewelik ’n kaart om die roete wat julle volg, te teken. Deur hulle beheer te gee, sal hulle nie te vinnig verveeld raak nie.
Hou ’n motorhuisverkoping
Laat die kinders hul kamers skoonmaak en ’n motorhuisverkoping hou. Sit al die geld saam en gebruik dit om te betaal vir ’n uitstappie vir die hele gesin.
Hou ’n rusdag
Met al die aktiwiteite wat beplan word, sal kinders ook tyd nodig hê om te rus. Beplan ’n paar dae waartydens julle net kan ontspan, na films kyk, boeke lees en rustig wees.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



