Robin Janse van Rensburg het Sondag 6 November ‘n heldedaad verrig deur eers twee jongmans uit die Vaalrivier te red voordat hy aandag gegee het aan ‘n slangbyt wat hy tydens die redding opgedoen het.
Van Rensburg en sy vrou Clarissa het ‘n romantiese piekniek beplan, maar toe eerder ‘n paar lewens gered.
Hulle het aan Retha Fitchat vertel hulle het gille gehoor van die groep jongmense wat nie ver van hulle af nie ‘n verjaardag gevier het.
Hulle het die gille eers as pret afgemaak, maar Clarissa het bekommerd aangedring iets klink nie vir haar reg nie. By nader ondersoek is gevind twee jongmense het in ‘n stroom water beland en kort-kort onder die water verdwyn.
Janse van Rensburg, wat ‘n goeie swemmer is, het besef dat hulle in lewensgevaar is en het in die hardloop uitgetrek en ingespring om die twee te red.
Dis toe hy met die twee mans uitswem dat hy ‘n brandgevoel aan sy arm gevoel het en ‘n slang van ongeveer een meter gesien het wat hom aan die arm beet het. Die held het die slang, wat hy as donkerbruin of swart beskryf het, losgeruk, weggeslinger en verder met die twee jongmans geswem.
Hulle is aan wal gehelp en het aangedring op ‘n foto, waarna hy dringend aandag moes gee aan die slangbyt. Janse van Rensburg is tweede van links op die foto. Een van die jongmans wat hy uit die water gehaal het, lê voor die groep op die gras. Volgens Van Rensburg was daar nie tyd om die groep jongmense se name te vra nie.
Clarissa het brandwyn van die verjaarsdaggroep gekry, dit oor die slangbyt gegooi en die gif uit haar man se arm begin suig.
Waarmee Janse van Rensburg nie rekening gehou het nie, is dat hy met sy kar se elektroniese sleutel in sy sak in die rivierstroom geduik het. Die sleutel het wonderbaarlik gewerk en Janse van Rensburg is na die naaste hospitaal vir hulp waar hy die goeie nuus ontvang het dat hy ook nie behandeling nodig het nie.
Die egpaar glo dat hulle wonderwerke beleef het, aangesien daar reeds verdrinkings in die omgewing was. Hulle glo hulle was op die regte tyd op die regte plek.
Bron Lowvelder / Laevelder
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



