Cheslin April (6), seun van AO Charles April van Lwandle-polisiestasie, is gister dood nadat ‘n dwaalkoeël hom om ongeveer 12:58 in Sercorrylaan, Broadlands, Strand, in die Wes-Kaap getref het in wat vermoed word die oor-en-weer-skietery van bendes was.
Die seun was op die agtersitplek van die motor saam met sy sibbe toe hy in die kop getref is. Hy het in die hospitaal aan sy wonde beswyk.
Sers. Wesley Twigg, polisiewoordvoerder, het die noodlottinge skietvoorval bevestig en gesê die omstandighede word ondersoek.
“Luidens verslae is die slagoffer deur ‘n dwaalkoeël getref terwyl hy saam met sy familie gery het toe mededingende bendes op mekaar losgebrand het. Die slagoffer is na ‘n nabygeleë mediese fasiliteit geneem vir mediese behandeling, waar hy later weens beserings wat hy in die voorval opgedoen, gesterf het.”
‘n Moorddossier is by die Strand-polisiestasie geregistreer.
Cheslin sou volgende jaar in gr. R by Primêre Skool Dr. G.J. Joubert begin het.
Hy word oorleef deur sy ouers en drie sibbe van 14, vyf en twee.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



