‘n Beloning van R200 000 is aangebied vir inligting wat kan lei tot Willem Kruger se opsporing.
Kruger het op 12 November ‘n funksie saam met vriende by Henbase Lodge in Morgenzon bygewoon en is die volgende oggend op die plaas Vaalfontein in Groblersdal verwag.
Nadat hy die Sondag nie by sy bestemming aangekom het nie, is hy as vermis aangemeld en ‘n volskaalse soektog is geloods.
Hy was geklee in ‘n blou Hurley-hemp, kakiekleurige kortbroek en bruin leerskoene toe hy die laaste keer gesien is. Hy sou die Henbase Lodge met sy Toyota Hilux Dakar Supercab met registrasienommer FBH 948 L verlaat.
Die volgende persone kan gekontak word indien daar enige inligting van Kruger beskikbaar is:
Groblersdal SAPD kapt. T Matipa 013 262 8371, Sakkie Louwrens: 071 798 7954 en Phil Vermeulen: 082 604 4598.
Op 18 November is ‘n gebedsbyeenkoms wat deur Kruger se familie gereël en deur ds. Julian Olivier gelei is, plaasgevind:
Hier volg ‘n opvolg van vandag se soektog deur die Facebook-blad Ons Soek Willem Kruger tot dusver:
19 November: Saterdag – Dag 7
Die soektog na Willem het vanoggend vroeg by die Vaalrivier hervat.
Die soektog was tot dusver by die Vaalrivier op Henbase Lodge gesentreer omrede Willem se selfoonsein en opsporingstelselsein slegs op die plaas geregistreer het en dit dui op die feit dat hy moontlik nie die plaas verlaat het nie.
Die uitgebreide soekspan bestaan uit Willem se familie, vrywilligers en polisielede met helikopters, hommmeltuie, en bote wat toegerus is met spesiale toerusting wat met die soektog kan ondersteun.
Sakkie Louwrens het vroeër gesê dat sy aandag op ‘n “dringende ding” gevestig is en dat hy die nuutste inligting sal deurgee sodra hy kan.
Vandaar het die soektog van die Vaalrivier weggeskuif en Louwrens het gesê dat leidrade opgevolg word.
Tot dusver word daar nog nie oor die nuwe leidrade uitgebrei nie en daar is nog geen positiewe vordering aangemeld nie.
Ondersoekers en duikers het besluit om die soektog by die Vaalrivier te staak omdat hulle tans van mening is dat die bakkie nie in die rivier is nie en niks daar gekry is nie behalwe die groen staal fles, een blou mansplakkie en buisie lipsalf waarvan daar geen vaste bewyse is dat dit aan Willem behoort nie.
Die soektog fokus nou op leidrade weg van die rivier af, maar geen plek of rigting waarheen die soeke gelei is, is tans beskikbaar nie.


Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



