Rokers wat voorgestelde tabakwette oortree, kan tronkstraf opgelê word – gesondheidsdept.

Deel hierdie storie / Share this story

Die departement van gesondheid het Woensdag gesê rokers wat die voorgestelde tabakwette oortree, kan ‘n stewige boete of tronkstraf opgelê word.

Die parlement het vroeër vanjaar die voorlegging van die Wetsontwerp op die Beheer van Tabakprodukte goedgekeur, wat kan meebring dat rook binnenshuis verbied word. As dit aanvaar word, sal die wetsontwerp die huidige Wet op die Beheer van Tabakprodukte vervang.

Die voorgestelde wysigings kom te midde van ‘n voortdurende stryd tussen die regering en die tabakbedryf.

Ten spyte van die terugslag van die tabakbedryf en pro-rook ondersteuners, het die departement van gesondheid gesê hy sal voortgaan met planne om rookregulasies te verskerp.

Die wetsontwerp stel 100% rookvry binnenshuise en ‘n beperkte aantal buite-areas voor, ‘n verbod op die verkoop van tabakprodukte by outomaatmasjiene, en ‘n groter klem op waarskuwings op sigaretverpakking.

Die voorgestelde wysigings, wat tans voor die parlement is, wil die vraag en aanbod na tabakprodukte verminder. Dit vorm deel van die regering se poging om die voorvalle van tabakverwante siektes, gestremdheid en dood te verminder.

Lorato Mahura, van die departement van gesondheid, het gesê daar sal implikasies wees vir wetsoortreders. ‘n Mens kan ‘n boete of gevangenisstraf van hoogstens drie maande kry. Vir rook in die teenwoordigheid van ’n kind of in die werkplek kan dit tot ses maande wees.”

Die departement het gesê hy verwag dat die parlement volgende jaar met konsultasies op provinsiale vlak sal begin.

Bronne: Eyewitness News, Hypegist, Health-E

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel

Lees ook: Wat jy moet weet oor nuwe rookwetsontwerp