Sewe mans, tussen die ouderdomme van 26 en 45, is in Fordsburg in hegtenis geneem vir sameswering om ’n roof te pleeg en die besit van drie ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie.
Xolani Fihla, Johannesburgse metropolisie-woordvoerder, het Woensdag gesê beamptes het ‘n wenk ontvang oor ‘n groep individue wat ‘n rooftog met ‘n wit Volkswagen Golf 7 GTi en ‘n maroen Volkswagen Polo in die Fordsburg-omgewing beplan.
“Beamptes is by strategiese punte in die gebied ontplooi en het op die verdagtes gewag. Nie lank na die ontplooiing ni, is die genoemde voertuie geïdentifiseer en is met die verwydering begin. Die wit Volkswagen Golf 7 GTi, sonder voor- en agterregistrasienommers, is onderskep. Toe hulle stilhou, is drie manlike insittendes binne die voertuig gevind,” het Fihla gesê.
“Die voertuig en verdagtes is deursoek. ‘n Ongelisensieerde 9 mm-pistool met die reeksnommer afgevyl, ‘n SAPD-koeëlvaste baadjie, pette en kentekens is teruggevind. Tydens die deursoeking het die beamptes ontdek dat die bestuurder en eienaar van die voertuig ’n SAPD-lid is.”
Die tweede voertuig, die maroen Volkswagen Polo, is ook onderskep en gestop.
Vier manlike insittendes is in die voertuig gevind.
“Twee ongelisensieerde vuurwapens, ‘n rewolwer en ‘n 9 mm-pistool met die reeksnommers afgevyl is teruggevind. Verdere ondersoek het aangedui dat die verdagtes die gemeenskap van Fordsburg en Mayfair al vir ‘n lang tydperk beroof en terroriseer,” het Fihla gesê.
“Al sewe verdagtes, wat vyf Suid-Afrikaanse en twee Zimbabwiese burgers insluit, is by Johannesburg Sentraal-SAPD aangehou waar ’n saakdossier vir verdere ondersoek oopgemaak gemaak is.”
Bronne: IOL, VN Explorer, Ghanamma
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.
Lees ook: Hof in trane tydens imam Haron se dogter se getuienis



