Daar was trane in hof 20 van die Wes-Kaapse hooggeregshof toe Fatiema Haron-Masoet getuig het oor die trauma van grootword met die kennis dat haar pa doodgemaak is deur die apartheidsregering.
Fatiema Haron-Masoet het getuig as die laaste getuie in die geregtelike doodsondersoek van imam Abdullah Haron voordat regter Daniel Thulare die verrigtinge sine die afgesluit het.
Die regter het gesê die saak sal in Januarie hervat word op ‘n datum waarop die prokureurs vir die staat en die familie ooreengekom het, sodra hulle gereed is met hul slotbetoë.
Haron-Masoet, die jongste dogter van die anti-apartheid struggle-aktivis, was ses toe haar pa deur die berugte Veiligheidstak uit die gesinshuis gesleep is.
Sy verstik van emosie en neem af en toe ‘n oomblik om haar trane af te vee terwyl sy getuig het oor die verbystering en pyn van die verlies van haar pa op die ouderdom van ses, die impak op haar lewe van grootword sonder haar ouer broers en susters in die huis en haar ma se lyding na sy gehoor het haar man is ná 123 dae in aanhouding dood.
Haron-Masoet, wat op 30 September, die dag ná haar pa se begrafnis, haar sewende verjaardag gevier het, het gloeiende hulde gebring aan haar ma Galiema, wat volgens haar dag in en dag uit geswoeg het om vir haar kinders te sorg.
Sy het gesê Galiema Haron, wat presies 50 jaar ná haar man se begrafnis gesterf het, het tot op haar sterfdag sigbaar hartseer gebly oor haar man se aanhouding en dood.
Met die voorlees van die familie se aanbevelings vir die regter, het Haron-Masoet gesê dat die familie onder meer wil hê “elkeen van die SB-lede wat by die imam se dood betrokke was, moet postuum skuldig bevind word aan opsetlike marteling en berekende moord”.
Die familie wil ook hê dat al die lede van die regbank en die betrokke mediese span postuum van hul kwalifikasies gestroop word omdat hulle hul eed van eerlikheid in die gedrang gebring het.
Bronne: IOL, Eyewitness News
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.
Lees ook: Polisieman uit apartheidsera getuig voort in imam Haron-ondersoek



