Charlize Theron, wat in Benoni gebore is, het ‘n kortsigtige blaps begaan wat Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika goed die hoenders in gemaak het.
Sy het haar moedertaal, Afrikaans, as ‘n sterwende taal wat nie “van hulp is nie”, beskryf. Die Hollywood-ster hier uit SA-geledere het op die SmartLess-potgooi gesê daar is ongeveer 44 mense wat steeds Afrikaans praat.
Die aanbieders van die potgooi se vraag was of dit vir haar moeilik was om haar Afrikaanse aksent te verloor toe sy in Hollywood aankom. Op die potgooi het sy gesê sy het eers Engels begin praat toe sy omtrent 19 jaar oud was.
Sy het uitgebrei dat van haar balletonderwysers aan die Royal Academy of Dance Engels gepraat het en dat geeneen van hulle Afrikaans magtig was nie. Sy het voorts gesê omdat sy toe nie Engels kon verstaan nie, het sy nie eers geweet as sy eksamen doen nie.
Haar uitspraak het menige Afrikaanssprekende die josie in gemaak. Sanger Steve Hofmeyr het laat weet: “It’s alive and well!”
Sommige het reeds hutsmerke begin gebruik om boodskappe duidelik by Theron te laat uitkom: #trotsafrikaans en #praatafrikaans. Ander het geskryf hulle is trots om deel van die 44 te wees, terwyl ander begin tel het van 44 af aan, om te wys daar is wel meer mense wat Afrikaans praat.
Bron: IOL News
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



