In minder as 24 uur het ’n aanlyn petisie wat uniseks-badkamers by skole teenstaan amper 50 000 handtekeninge gekry.
Die ma wat die petisie begin het, Rudaya Taliep Rasool, het vertel dat sy aangespoor is om die petisie te begin nadat sy by ’n damestoilet by KFC ingegaan het en ’n volwasse man aangetref het wat besig was om die toilet te gebruik.
Sy het gesê hy het nie eens die toilet gesluit nie en dit het haar gewalg. Sy dink toe aan hoe ’n kind sou voel in so situasie en het besluit om die nuwe konsepriglyn vir uniseks-badkamers teë te staan.
Die konsepriglyne is vroeër vanjaar ontwikkel in ‘n poging om ‘n veiliger omgewing vir leerders van verskillende seksuele en geslagsoriëntasies te skep. Besorgde ouers en politieke groepe, onder andere, het egter kommer oor veiligheid geopper sou dit verder ontwikkel en geïmplementeer word.
Die petisie is Maandag begin en het Dinsdag vroegmiddag reeds 45 000 handtekeninge ter ondersteuning bereik.
“Ek hoop die magte besef dat Suid-Afrikaanse ouers nie ten gunste hiervan is nie en dat ons ons kinders se veiligheid bo alles waardeer,” het Rasool gesê.
“Alle kinders het hierdie reg – mans, vrouens en nie-binêre/transgender kinders. Hoekom nie vir hulle toilette skep en almal gelyk behandel nie? Hoekom uniseks-toilette skep as ons soveel geweld onder ons jeug het waar verkragting, seks, dwelms en afknouery die norm geword het?” het sy gevra.
Die Moslem Regterlike Raad het ook steun teen geslagsneutrale badkamers en kleedkamers, en ander maatreëls, insluitend om ontslae te raak van alle vorme van geslagsskeiding en identifiseerders, uitgespreek.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.
Bronne: IOL, ECR



