Sewe bekende Zeerust-inwoners bly in aanhouding na halfmiljoen se vermeende veediefstal

Deel hierdie storie / Share this story

Sewe verdagtes wat na bewering op heterdaad betrap is toe hulle gesteelde vee opgelaai en vervoer het, sal vandag in die Molopo-landdroshof verskyn vir ‘n formele borgaansoek.

Willem Petrus Boshoff (46), Carel Stephan Wallis (47), Ntlhothana Motswabangwe (33), Rapula Letsapa (25), Johannes Wessel (49), Simon Wessel (47) en Janine Hill (50), word nou deur aanklagte van diefstal en die versuiming om ‘n verduideliking te gee vir die besit van die vee, die verkryging van vee van mense wie se woonplekke onbekend is en die vervoer van lewendehawe sonder ‘n permit in die gesig gestaar.

Volgens Henry Mamothame, woordvoerder vir die nasionale vervolgingsgesag in die provinsie, sê die vee is glo op pastoor Piet Thlabanyane se plaas naby Ottoshoop gesteel.

Die sewe is op 10 November in hegtenis geneem na hulle glo in die besit van vee ter waarde van ongeveer R500 000 betrap is.

‘n Boer in die omgewing het glo verdagte aktiwiteite raakgesien – ‘n vragmotor en bakkies wat lewendehawe vervoer. Hy het toe ander boere om Ottoshoop in kennis gestel en die verdagte bakkie is op ‘n plaas tussen Mahikeng en Lichtenburg opgespoor.

Die polisie is in kennis gestel en die verdagtes is in hegtenis geneem. Daar is ‘n totaal van 42 stuks vee tussen die boere en die polisie gekonfiskeer.

Ondersoekers is glo ook besig om ‘n moontlike agtste verdagte vas te trek.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel