‘Nes jy dink jy is oukei, kom die duiwel’ – Mienke se ma

Deel hierdie storie / Share this story

“Daar is ‘n spreekwoord wat lui: Die lewe is nie net maanskyn en rose nie. En ons almal weet dit is mos die reine waarheid. Die duiwel werk mos so – nes jy dink jy is weer oukei, dan kom hy en slaan weer jou voete onder jou uit.”

Verna Mulder, ma van baba Mienke wat in 2020 oorlede is na sy in 2017 by ‘n dagsorgsentrum verstik het, vertel dat sy sedert haar kankerdiagnose in April vir seker nie net maanskyn en rose ervaar het nie.

Verna het op 18 April 2022 die nuus dat sy borskanker het, bekendgemaak.

Sy het sedertdien ‘n dubbele mastektomie en chemoterapie ondergaan as deel van haar behandeling en sal ook in Januarie 2023 radiasie kry.

“Ses maande se chemo was geen mens se grap nie. Nie net die newe-effekte van chemo wat aaklig was nie, maar die vroulikheid en uiterlike wat mens moet prysgee, wat genoeg is om iemand depressief te maak.”

Verna bedank haar vriendin, Bernice van Loggerenberg, wat haar na elke chemosessie geneem het.

“Na ses maande se chemo is ek dankbaar dit is oor en verby. Glo my!”

“‘n Dubbele mastektomie op 3 November… Nou ja, daaroor wil ek eintlik nie te veel sê nie. Wat ‘n berg voor my was, is nou ook agter my.”

Verna sê sy het weereens geleer dat haar wil nie God se wil is nie.

“Ek is net dankbaar vir elke daggie gespaar. Ongeag die bekommernisse in my hart, staan ek op en kyk die wêreld vierkantig in die oë, want hier word nie opgegee nie.”

Verna bedank dan ook haar man, Ryno Mulder, “wat so ‘n goeie pappa is en mamma duties doen as mamma nie kan nie”. Sy noem haar familie en vriende seëninge in haar lewe en bedank ook haar Facebook-volgelinge vir hulle ondersteuning.

“Vandag wil ek vir elkeen van julle wat hier lees, sê: Moenie tou opgooi nie. Ja, ek weet daar kom ‘n tyd in ons lewens wat ons net wil ‘let go‘, maar moenie.”

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel