Jong ma dood nadat kêrel haar glo met bierbottel teen kop gooi

Deel hierdie storie / Share this story

Lekesha Marthinus (18), van Tafelbergstraat, Tafelsig, Mitchell’s Plain in die Wes-Kaap is Saterdag 5 November dood nadat haar kêrel, wat ook haar agt maande oue baba se pa is, haar glo met ‘n bierbottel teen die kop gegooi het.

Sers. Wesley Twigg, polisiewoordvoerder, sê Mitchell’s Plain-polisiestasie is na ‘n moordklag uitgeroep by die daghospitaal. Met hul aankoms by die hospitaal is hulle meegedeel dat ‘n 18-jarige weens ‘n kopbesering dood is.

Marthinus en haar kêrel het na bewering ‘n argument gehad, waarna hy glo ‘n vol bierbottel teen haar kop gegooi het. Die bottel het haar glo teen die slaap getref. Daar is met Marthinus hospitaal toe gehaas in ‘n privaat motor, maar sy is met aankoms dood verklaar.

Haar kêrel is in hegtenis geneem en het in die Mitchell’s Plain-hof verskyn. Hy is volgens ‘n Facebook-plasing van Desmareen Abrahams reeds die volgende dag uit nadat hy borg ontvang het.

Marthinus word oorleef deur haar babseun en haar ouers.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.