Wanneer jy sigarette rook, tree die nikotien in die sigaret op as ’n eetlusdemper en versnel jou metabolisme effens. Wanneer jy die dag besluit om op te hou rook, verbrand jou ligaam kilojoules stadiger. Dikwels, wanneer ’n slegte gewoonte verbreek word, word dit net met ’n ander gewoonte vervang. Ná jy opgehou rook het, sal jy onbewustelik vir hoë kilojoule-kosse lus wees.
Daar is gelukkig maniere om die hoeveelheid gewig wat jy optel, te beheer.
Gesonde peuselhappies en mindful eating
Koop genoeg verskillende gesonde peuselhappies vir wanneer die lus vir ’n sigaret by jou opkom. Die lus oorval jou gereeld, so maak seker jy het genoeg gesonde kos om aan te peusel. Wees bewus van hoeveel en wat jy eet wanneer jy aan tafel sit en verminder só die kanse om te ooreet.
Raak aktief besig
Jy hoef nie soos ’n besetene in die gym te gaan oefen nie. Gaan stap elke tweede of derde dag vir 20 na 30 minute om die blok. Dit sal jou metabolisme aan die gang sit en sommer jou kop ook bietjie skoonkry.
Wat jy doen in plaas van rook of eet
Wat as jy klaar gaan stap het en gesonde peuselhappies stil nie meer jou lus vir ongesonde kos nie?
Drink ’n glas water, borsel en flos jou tande, kou kougom, doen ’n paar jumping jacks of sit die radio kliphard en dans asof niemand jou kan sien nie.
Wees voorbereid vir gewigstoename
Wees versigtig om jou nie te veel te bekommer oor of jy ’n bietjie gewig gaan optel nie. Dis moeilik genoeg om van ’n ongesonde gewoonte ontslae te raak. Dalk besluit jy nou om ’n streng dieet te volg om nie gewig op te tel nie. Jy sal minder energie hê en vinniger moeg raak, wat jou makliker sal laat ingee vir gemorskos.
Dink rasioneel en wees toegewyd
Om op te hou rook en terselfdertyd gesond te eet, is moeilik. Albei veranderinge verg opoffering, moeite en toewyding. As jy ten spyte van jou probeerslae steeds gewig optel, moenie moed verloor nie.
’n Paar ekstra kilo’s is minder ongesond as om te rook!
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



