Ntokozo Khulekani Zikhali (28) van Brakpan, wat daarvan beskuldig word dat hy die vierjarige Bokgabo Poo ontvoer, verkrag, vermoor en toe haar lyk geskend het, het sy borgtogaansoek in die Benoni-landdroshof laat vaar.
Bokgabo se ouers het haar as vermis aangemeld. ‘n Vrou wat die volgende dag haar erf gevee het, het op menslike been afgekom, waarna die polisie gekontak is.
Gedeeltes van Bokgabo se liggaam was na die been ontdek is, gevind. Haar pa het met ‘n vorige hofverskyning gesmeek dat die beskuldigde sê waar die res van haar liggaam is sodat sy begrawe kan word.
Die jong moordslagoffer is op 7 November ter ruste gelê. Met die jongste hofverskyning het haar pa almal wat die hof sou bywoon, gevra om oranje aan te trek.
Lumka Mahanjana, NVG-streekswoordvoerder in Gauteng, sê Bokgabo Poo het na bewering op 10 Oktober 2022 saam met ‘n 5-jarige seunsmaat in ‘n park in Watville, Benoni gespeel toe die beskuldigde hulle nader. Zikhali het glo vir die seun geld gegee om suigstokkies te gaan koop en toe die vierjarige Bokgabo saam met hom weggelok.
CCTV-beeldmateriaal van ‘n taverne in die nabye omgewing het gewys hoe Bogkabo saam met Zikhali op die dag van haar verdwyning stap.
Die beeldmateriaal is op sosiale media versprei, waarna Zikhali glo na Boksburg gevlug het. ‘n Petroljoggie by ‘n vulstasie het hom herken en op 14 Oktober aan die polisie uitgewys.
Zikali was op borg uit van ‘n klag van verkragting van ‘n 9-jarige meisie waarop hy teregstaan. Tydens sy hofverskyning op 24 Oktober het die staat die hof ingelig oor voornemens van ‘n aansoek om Zikhali se borgtog op die verkragtingsaak te herroep.
Die staat het met gister se hofverskyning die hof ingelig dat Zikhali nie die aansoek om borgtog gaan bring nie en dit eerder laat vaar. Albei sake is tot 14 Februarie uitgestel.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



