’n Bedreiging van bankrotskap, bestuurders wat bedank en ’n waarskuwing van die Amerikaanse reguleerder vir verbruikersbeskerming het ’n chaotiese dag by Twitter onder Elon Musk se nuwe leierskap gekenmerk.
In ’n e-pos waarin hy vir sy eerste all-hands-vergadering gevra het, het Musk werknemers gewaarsku dat Twitter nie lank sal oorleef as hulle nie nuwe maniere vind om geld te maak nie.
“Jammer dat dit my eerste e-pos aan die hele maatskappy is, maar daar is geen manier om die boodskap te versuiker nie. Sonder noemenswaardige subskripsie-inkomste is daar ‘n goeie kans dat Twitter nie die komende ekonomiese afswaai sal oorleef nie,” het Musk gesê.
Luidens ’n Bloomberg-verslag het Musk aan sy werknemers gesê hy kan nie bankrotskap uitsluit nie. Dit volg slegs twee weke nadat hy die sosialemediamaatskappy vir $44 miljard (€43,2 miljard) gekoop het.
Sommige van Twitter se adverteerders – sy hoofbron van inkomste – het weggebly van die maatskappy sedert Musk oorgeneem het, wat inkomste verlaag het.
Intussen het nuwe kenmerke soos ‘n $8-intekening vir die gesogte blou regmerkie en ‘n grys amptelike kenteken vir hoëprofielrekeninge probleme ondervind.
Die sosialemediaplatform verloor elke dag $4 miljoen, het Musk aan werknemers gesê.
Die sosialemediareus het tans $13 miljard skuld, wat ‘n $1,2 miljard rentebetaling in die volgende 12 maande vereis. Dit is hoër as Twitter se mees onlangse kontantvloei van $1,1 miljard, volgens finansiële dokumente, op 30 Junie.
Nadat Musk glo vandeesweek 50% van Twitter se 7 000 werknemers afgelê het, het bestuurders in belangrike poste die maatskappy uit hul vrye wil verlaat.
Twitter is weer in die visier van die Amerikaanse Federale Handelskommissie (FTC) – ‘n reguleerder wie se sleutelrol dit is om kliënte te beskerm. Die liggaam het Donderdag in ‘n verklaring gesê hy volg onlangse verwikkelinge by Twitter met diepe kommer en dat “geen uitvoerende hoof of maatskappy bo die wet verhewe is nie.”
Dit het verder daarop gewys dat maatskappye die reguleerder se toestemmingsbesluite moet nakom of die gevolge sal moet dra. Die FTC het nog nie ‘n amptelike ondersoek na Twitter se onlangse skuiwe aangekondig nie.
Bronne: DW – South Africa, SABC
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.
Lees ook: Trevor Noah sê Elon Musk moet wit mense geld vra wat die n-woord gebruik op Twitter



