Twee vermeende kapers het hul rieme styf geloop nadat hulle ‘n vrou om 13:00 van haar voertuig, ‘n Toyota Furtuner, by die McGee Ford se Caltex-vulstasie op Lydenburg, waar sy besig was om petrol in te gooi, gekaap het.
Die kaper, wat met die voertuig laat spaander het, het sy makker net daar by die vulstasie gelos, maar nie besef die plaaslike GPF, gemeenskap en sekuriteit is kort op sy hakke nie.
Die kaper wat agtergelaat is, het homself ‘n loesing van petroljoggies en gemeenskapslede op die hals gehaal toe hy probeer vlug het. ‘n Video wat daarvan geneem is, is wyd op sosiale media versprei.
Die kaper met die bakkie het in die rigting van Badfontein gejaag, maar is ingewag deur boere en die plaaslike GPF van die gemeenskap wat geweet het hy gaan hom in ‘n sirkelroete vasry.
Sers. Cave Dibakane het bevestig dat die voertuig teruggevind is en dat een verdagte op die dorp en die ander op Badfontein in hegtenis geneem is.
Bron Michelle Boshoff, Laevelder / Lowvelder
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



