Kerk se tesourier tot drie jaar gevonnis vir diefstal van R800K se tiendes, offergawes

Deel hierdie storie / Share this story

’n Zimbabwiese vrou, wat haarself tussen 2012 en 2015 aan kerkfondse gehelp het, is tot drie jaar tronkstraf gevonnis.

Volgens die woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), Lumka Mahanjana, is lady Memory Mutsika (43) op 128 aanklagte van diefstal aangekla.

Sy het gesê Mutsika was ‘n kerktesourier van die Pretoria City Sewendedagadventistekerk.

Haar verantwoordelikhede het die oordrag van tiendes en die aanbied van geld wat in die kerkrekening gedeponeer is, aan die Noordelike konferensie van die Sewendedagadventistekerk, ingesluit.

“Mutsika het meer as R800 000 van die geld wat uit die tiendes en offergawes ontvang is na haar bankrekening en vir haar persoonlike gebruik oorgeplaas,” het sy gesê.

Mutsika het die hof gevra vir ‘n nie-gevangenisstraf vonnis om die kerk die geld oor ‘n tydperk van vyf jaar te kan terugbetaal.

Mahanjana het egter gesê die beskuldigde het eers aangedui dat sy bereid is om die geld terug te betaal nadat sy skuldig bevind is en het sedert Maart 2022 nog nie ‘n sent terugbetaal nie.

Die landdros het gesê Mutsika het geen berou getoon nie en dat sy opgehou steel het, nie weens haar gewete nie, maar omdat sy gevang is.

Die landdros het gesê die kerk het Mutsika in ‘n vertrouensposisie geplaas, maar sy het dié vertroue verraai.

“Hy het verder gesê dat hy Mutsika se bereidwilligheid om die geld terug te betaal beskou as ‘n bedingingsinstrument en as ‘n kaartjie om haar uit die tronk te hou. Daarom is ‘n vonnis van gevangenisstraf gepas en kriminele optrede het gevolge,” het die NVG gesê.

Bronne: IOL, African News Agency, Sowetan LIVE

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel

Lees ook: Matriekleerling vermoor terwyl nog een selfdood pleeg