Vrou oorleef fratsongeluk in lugborrel toe boot in St. Lucia omslaan

Deel hierdie storie / Share this story

Liezl Kirchner van Burgersfort, Limpopo, het oorleef nadat ‘n boot waarop sy was Saterdag tydens die lansering van die strand af, in St. Lucia, omgeslaan het.

Sy is deel van die BOLS-vrouespan (Burgersfort, Orighstad, Lydenburg en Steelpoort) wat aan boord van die Dela-ca-Sea onder leiding van skipper Driken Grobler was vir die Queens of the Ocean-visvangkompetisie.

Vrydag is hulle sonder probleme die see in. Dit was met Saterdag se lansering wat die boot deur ‘n brander van die kant af getref is, en hulle omgeslaan het.

Liezl het volgens die Alberton Record vir 25 minute in ‘n lugborrel wat deur ‘n seil onder die boot gevorm was, verkeer, waar sy kon asemhaal.

Driken was by haar en wou hê sy moet haar reddingsbaadjie losmaak sodat hulle onderdeur die boot kon swem om by die strand uit te kom. Nadat hy gesien het sy registreer nie wat hy vra nie het hy dit gedoen en land toe geswem, waarna hy reddingswerkers ingelig het dat sy kon asemhaal. Sy het onder die boot wat uitgesleep is, gebly totdat die boot effens opgelig is en sy kon uitklim.

Die hele span het die voorval oorleef, maar het veelvuldige beserings gehad en is per ambulans na ‘n hospitaal geneem.

Hulle, Liezl Kirchner, Maritsa Gouws, Michelle Smith en Mia Brits, kon almal die aand die prysuitdeling bywoon.

Driken is ‘n ervare skipper van 12 jaar en die BOLS-vrouespan wat in die fratsongeluk was, het reeds vir hul volgende visvanguitstappie in Februarie 2023 bespreek.

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) is met elke kompetisie teenwoordig.

Bron: Alberton Record

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.