Noorweë se prinses Märtha Louise het haar koninklike pligte prysgegee om saam met haar verloofde, ‘n selfaangekondigde sjamaan, op haar alternatiewe medisyne-besigheid te fokus.
Die prinses sal haar titel behou, maar doen afstand van amptelike pligte om “‘n duideliker skeidslyn te skep” tussen haar private en koninklike rol.
Haar verloofde, Durek Verrett, bevorder glo ongegronde mediese praktyke, insluitend die mening dat kanker ‘n keuse is. Die Amerikaner is goed bevriend met Gwyneth Paltrow, vir wie hy heel eerste die verloofring wat hy vir prinses Märtha laat maak het, gewys het.
Prinses Märtha Louise “laat vaar haar beskermrol”, het die paleis in ‘n verklaring gesê. Dit het bygevoeg dat koning Harald V besluit het sy sal haar titel behou. “Sy het haar pligte met warmte, sorg en diepe toewyding uitgevoer,” lui die verklaring.
Ten spyte van die aankondiging het koning Harald Verrett beskryf as ‘n “‘n wonderlike ou en baie snaaks om mee saam te wees”.
“Hy het baie humor, en ons lag baie, selfs in hierdie moeilike tyd. Ek dink beide ons en hy het ‘n groter begrip gekry van waaroor dit gaan, en ons het ingestem om nie saam te stem nie,” het koning Harald aan Norweegse verslaggewers gesê.
Prinses Märtha Louise het in ’n afsonderlike verklaring gesê sy is “bewus van die belangrikheid van navorsingsgebaseerde kennis”, maar dat sy glo alternatiewe medisyne kan “’n belangrike aanvulling tot hulp van die konvensionele mediese instelling wees”.
Sy het bygevoeg dat dit belangrik is om “te onderskei tussen myself as ‘n privaat persoon aan die een kant en as ‘n lid van die koninklike familie aan die ander kant”.
Bronne: BBC, Metro, The Guardian
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.
Lees ook: Wetstoepassers doen intensiewe ondersoek rakende Isis-operateurs in SA, sê FIC



