‘Ek is nie jou onderwysertjie nie, ek is hier vir die kinders’

Deel hierdie storie / Share this story

Sosialemediagebruikers was woedend toe ‘n deelnemer aan Real Housewives van Pretoria ‘n uitlating gemaak het oor “onderwysertjies” wat nie baie geld maak nie.

Beecome Through Play het die naweek hierdie plasing ná die uitlating op Facebook gedeel.

‘n “Onderwysertjie”.

Sjoe, ek’s dankbaar dat iemand noem dat ons (ek en jy, juffrou en meneer) net ‘n onderwysertjie is. En dat ons nooit baie geld sal kan hê nie en nooit sal kan by hou by die Jones’s nie. Want jy’s reg….

Kom ek brei vandag bietjie uit daaroor. Hoekom sê ek ons is net onderwysertjies…

Ja, soms word ek ‘n onderwysertjie genoem. Ander keer juffroutjie. Partykeer word ek sommer “daai juffrou” genoem en ander keer word daar met ‘n trotse stemtoon gepraat van “my kind se juffrou”. Wat ook al jy gebruik, jy is reg. Want vir party is ek net n onderwysertjie en vir ander is ek “my kind se juffrou”.

Dit maak nie saak nie. Want ek is nie JOU onderwysertjie nie. Voor my sit 36 kinders elke dag en dis vir HULLE wat ek hier is. Hierdie onderwysertjie doen baie meer as wat jy dink:

✏️Daar is kinders wat sukkel. So ek vat ekstra tyd uit my dag om daai kinders te help. Nie net om beter te doen nie, maar met die hoop dat hulle sal uitblink. Ek moedig aan, motiveer en skep HOOP.

✏️Ouers druk op my knoppie as dit sleg gaan. Soms in die middel van die nag. Hulle deel hulle seer met my en vra vir hulp. En ek ONDERSTEUN.

✏️Halfdag werk… dis mos wat dié onderwysertjie doen. Ek’s bly jy dink so. Ek doen ‘n halfdag werk by die skool. Daarna is ek op die sportveld of besig om vir kinders revue danse te leer, of ek gee ekstra klasse vir kinders en as ek by die huis kom, het ek my werk saamgebring. Want daar is net nie genoeg tyd in die dag om alles by die skool af te handel nie. Ek sit nog en merk en skryf punte neer. Ek soek oulike video’s om lesse meer interessant te maak vir die kinders. Ek skuif my eie familie opsy want my werk moet klaar, voor môreoggend! Ek doen MOEITE.

✏️As ek in die bed klim, sukkel ek om te slaap. Want my gedagtes is by die kinders. Nie altyd my eie nie, maar meestal by dié van ander… my “skool kinders”, soos ek hulle noem. Ek dink aan hoe ek môre gaan hanteer, hoe ek kan verbeter op elke dag en wat ek kan doen om die kinders se dae op te helder. Ek GEE OM.

✏️Hierdie onderwysertjie ken elke kind op sy naam, weet wat “trigger” elke kind en kan boeke skryf oor hulle. Maar ons bly neutraal, ons “judge” nie. Ons deel liefde en geduld uit, ons praat sag en kyk met oë van begrip na elke kind. Ons is ‘n VEILIGE VESTING.

Kyk, ek is nie hier om ons onderwysers te verdedig nie. Inteendeel, ons weet wat ons waarde is. En dié wat saak maak, verstaan en waardeer ons vir dit wat ons doen.

Ek wonder maar net… besef jy dat as gevolg van ‘n onderwysertjie (of seker so 20 van hulle) kan jy vandag, terwyl almal werk, gaan shop sonder om na pryse te kyk… Jy/julle is so suksesvol as gevolg van onderwysertjies. Kennis en vaardighede en waardes wat hulle jou geleer het, hulle tyd wat hulle vir jou gegee het. Sonder hulle sou jy dalk nie soveel sukses kon behaal het nie. Sonder hulle sou jy nie ingeligte besluite kon maak nie.

So dis reg, ons is onderwysertjies. Want hoe ouer ‘n mens raak, hoe makliker vergeet mense van die invloed wat onderwysers in hul lewens gehad het. En onderwysers word “kleiner” in mense se lewens. Hulle gaan vanaf ‘n “hero” na ‘n herinnering na ‘n onderwysertjie soos wat die herinnering verouder.

Maar onthou, “it takes a village to raise a child“.
“Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets. As die een val, kan die ander hom ophelp.” Prediker 4:9

Onderwysers is só nodig en kan berge versit as hulle saam met ouers en gemeenskap werk aan die opvoeding van kinders.

Vir elke onderwyser, hou aan doen wat jy doen. Hou aan inspireer en lei en help en liefhê. Want vir baie is jy dalk net ‘n onderwysertjie (en dis oukei), maar vir die kinders wat jy sien is jy ‘n “hero”, ‘n rolmodel, ‘n skool-mamma (of pappa), ‘n plek van veiligheid en ‘n bron van kennis. Vir hulle is jy ALLES! Hou aan om ‘n 1 Korintiërs 16:15 onderwyser te wees: “Laat alles by julle in liefde geskied.”

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel