Liggaam van vrou net in onderklere gekry

Deel hierdie storie / Share this story

Polisiespeurders by Humewood, Gqeberha, het ‘n geregtelike doodsondersoekdossier geopen nadat die liggaam van ‘n onbekende vrou gevind is wat in die see naby die Kaapse Recife-vuurtoring dryf.


Kapt. Sandra Janse van Rensburg sê ‘n gesin wat op die strand naby die vuurtoring geloop het, het die liggaam Donderdagoggend omstreeks 11:00 opgemerk en die polisie in kennis gestel.

Kapt. Janse van Rensburg sê die liggaam van die vrou was halfnaak en na raming tussen 50 en 55 jaar oud.

Sy het net haar bra aangehad. Daar was geen sigbare beserings aan haar liggaam nie en die oorsaak van dood sal eers bepaal word sodra ’n nadoodse ondersoek gedoen is.

Enigiemand wat kan help om die familie van die vrou op te spoor of haar dalk kan identifiseer of enige inligting met betrekking tot haar dood kan verskaf, word gevra om SAPD Humewood by 041 504 5019/20 of Crime Stop by 08600 10111 te kontak.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel