’n Oos-Kaapse man wat sy twee meisies op Kersdag vermoor het, is tot lewenslange tronkstraf plus 35 jaar in die Maluti-streekhof gevonnis.
Zingisile Victor Ntokozo Kakana (39) is Maandag 31 Oktober skuldig bevind op twee aanklagte van moord op sy twee meisies, die onwettige besit van ‘n vuurwapen, die onwettige besit van ammunisie en die diefstal van ‘n vuurwapen (‘n polisie-uitgereikte dienspistool).
Volgens die provinsiale woordvoerder van die Direktoraat vir Prioriteitsmisdaadondersoek (Hawks), kapt. Yolisa Mgolodela, het Kakana op 25 Desember 2021 sy meisie, die 47-jarige konst. Pumla Mabindisa, met haar dienspistool vermoor voordat hy uit haar huis gevlug het. Mabindisa was by die Cedarville-polisiestasie gestasioneer.
Hy is toe na Maluti om sy ander meisie, Noluyolo Mpumlwana (36), te ontmoet en het gebieg dat hy die polisievrou vermoor het.
Mpumlwana wou hom by die polisie aanmeld en daarom het hy haar ook vermoor, het Mgolodela gesê.
Sy het gesê lede van die Valke se ondersoekspan vir ernstige georganiseerde misdaad wat in Mbizana gesetel is, het Kakana opgespoor en hom op 3 Februarie 2022 in hegtenis geneem.
Die hof het Kakana tot 20 jaar tronkstraf gevonnis vir die moord op Mabindisa, en lewenslange tronkstraf vir die moord met voorbedagte rade op Mpumlwana.
Die hof het hom tot 15 jaar gevangenisstraf gevonnis vir die diefstal van die dienspistool, vyf jaar gevangenisstraf vir die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen en drie jaar vir die onwettige besit van ammunisie. Die hof het gelas dat hierdie vonnisse samelopend uitgedien word.
Bronne: IOL, Algoa FM
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.
Lees ook: Eienaar aangekla na poolhonde pikkewyne doodbyt in Simonstad



