Die eienaar van die twee poolhonde (huskies) wat die naweek pikkewyne in Simonstad doodgebyt het, is aangekla na die DBV en dierebeheereenheid die honde verwyder en geskut het.
Onder-burgemeester en Mayco-lid van ruimtelike beplanning en omgewing, Eddie Andrews, het gesê ‘n volledige ondersoek is gedoen en weens die ernstige aard van die aanval en die impak op die krities-bedreigde Afrika-pikkewynkolonie, is die Stad besig om toepaslike regstappe teen die honde-eienaar te neem.
“Die eienaar is nie in hegtenis geneem nie. Die voorval word ingevolge die Diereaanhou-verordening hanteer. Die honde is geskut en die eienaar is aangekla van versuim om te verhoed dat enige dier enige ander persoon of dier aanval, pla of bang maak. Die saak sal nou deur die howe hanteer word,” het Andrews gesê.
Jaco Pieterse, hoofinspekteur van die DBV van Kaap die Goeie Hoop, het gesê hulle is in besit van ‘n beëdigde verklaring van ‘n getuie wat gesien het hoe die twee honde die pikkewyne op die strand aanval.
“Hulle was van hul leibande af en dit is daarna deur die Suider-Afrikaanse Stigting vir die Bewaring van Kusvoëls (Sankub) bevestig dat die voëls se dood blykbaar deur hondebyte veroorsaak is.”
Bronne: IOL, VN Explorer, Flipboard
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.
Lees ook: ‘Huskies’ maak 19 Afrika-pikkewyne in Simonstad dood



