Twee poolhonde (huskies) is deur die Cape of Good Hope DBV van ’n huis in Simonstad verwyder na hulle 19 Afrika-pikkewyne oor die naweek doodgemaak het. Die honde was glo nie aan leibande nie.
’n Drawwer het die sterwende pikkewyne op Seaforth Beach gevind en die DBV in kennis gestel.
Die Suider-Afrikaanse Stigting vir die Bewaring van Kusvoëls het bevestig dat hondebyte die bedreigde voëls se dood veroorsaak het.
’n Ooggetuie van die voorval het ’n skriftelike verklaring onder eed afgelê. Die ooggetuie het die honde tot by hulle huis gevolg en die aanvalle by die owerhede aangemeld.
“Die DBV sal verseker dat geregtigheid geskied vir hierdie pikkewyne, wat ‘n traumatiese dood gely het weens onverantwoordelike honde-eienaars,” het Jaco Pieterse, hoofinspekteur van die DBV van die Cape of Good Hope, gesê.
Bronne: Eyewitness News, IOL, Cape Talk
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



