Boere in die omgewing van Onseepkans in die Noord-Kaap het gister polisielede gehelp om ses vermeende rowers tussen die ouderdomme van 22 en 30 jaar aan te keer.
Lt.kol. Sergio Kock, polisiewoordvoerder, sê een van die gewapende verdagtes het glo ‘n winkel op Augrabies binnegegaan, die kassier met ‘n wapen gedreig en van ‘n onbekende bedrag kontant en sigarette beroof.
‘n Polisiebeampte wat aan diens en met roetinepatrollie besig was, het die gewapende verdagte gesien toe hy in ‘n Toyota SUV saam met vyf ander verdagtes gespring en hulle weggejaag het.
‘n Jaagtog het op die N14 ontstaan waartydens die verdagtes op die polisie geskiet het.
Na ongeveer 15 kilometer is die voertuig tot stilstand gebring en die verdagtes het uitgespring en in die rigting van Pofadder gehardloop.
Rugsteun is aangevra, waarop hoofweg-patrollielede, honde-eenhede en Upington POPS saam met plaaslike lede reageer het.
Plaaslike boere het met ‘n hommeltuig en ligte vliegtuig hulp verleen.
Al ses die verdagtes is op verskillende plekke in die area in hegtenis geneem. Die polisie het beslag gelê op drie vuurwapens en ammunisie.
Geen beserings is tydens die voorval aangemeld nie.
Die verdagtes word vir poging tot moord, besigheidsroof en die besit van ongelisensieerde vuurwapens aangekla en sal binnekort in die hof verskyn.
Vier van die verdagtes is buitelanders en twee is Suid-Afrikaners.
Lt.genl Koliswa Otala, die provinsiale kommissaris van die Noord-Kaap, het die lede en gemeenskap geloof vir hul optrede wat tot die inhegtenisneming van die verdagtes gelei het.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



