Ontvoerde verkeersbeamptes gevind

Deel hierdie storie / Share this story

Die twee verkeersbeamptes wat Woensdag ontvoer is, is gevind.

FiND iT het vroeër berig dit was net een verkeersbeampte.

‘n Polisielid is ook tydens dié voorval in ‘n skietgeveg met die gewapende verdagtes beseer. Die verkeersbeamptes is ontwapen in die bosse naby Walkerville gelaat.

Die polisie is in kennis gestel van waar hulle is en hulle is ongedeerd gevind.

Die voorval het om 11:00 op die R103-pad in Vrede in die Vrystaat plaasgevind toe hulle glo besig was om ‘n spoedvraat voor te keer. Na bewering het twee ander voertuie hulle genader. Die een het by die beamptes gestop.

Die verdagtes bet die een beampte met ‘n vuurwapen gedreig en opdrag gegee om nader te staan. Die ander beampte het probeer reageer ná sy gesien het wat gebeur. Sy is glo ook met die vuurwapen gedreig en albei beamptes is gedwing om in die voertuig te klim.

Die polisie op Vrede het vinnig gereageer nadat hulle inligting ontvang het. Hulle het op drie verdagte voertuie afgekom, waarna ‘n skietgeveg gevolg het.

Een SAPD-lid, ‘n vroulike konstabel, is in die regterbeen geskiet. Die verdagtes het daarin geslaag om in hul voertuie te klim en van die toneel gevlug.

‘n Soektog is van stapel gestuur en die voertuie is op pad na Walkerville in Gauteng bespeur.

Die verdagtes, wat ‘n goudkleurige Volvo, wit Audi en ‘n grys Toyota Fortuner gery, is steeds op vrye voet. Die verdagtes is gewapen en gevaarlik.

‘n Saak van poging tot moord en gewapende roof word ondersoek.