Francois Pretorius (45), ‘n juwelier, het Vrydag ‘n vonnis van 30 jaar vir twee klagtes van moord in die Mpumalanga-hooggeregshof op Delmas ontvang.
Dit volg na die dubbele moord op dr. Johannes Andries Beukes (70) en sy vrou Ibel Beukes (67) op die plaas Rustfontein in Bethal op 18 Maart 2020.

Hulle het hul tuinier in Emzinoni, ‘n woonbuurt buite Bethal, gaan aflaai. Hulle is daarna huis toe, maar het weer gery en “verdwyn”. Dr. Beukes was vir jare verbonde aan die Hervormde Kerk terwyl sy vrou ‘n afgetrede onderwyseres was.
‘n Motorfietsryer het hulle voertuig opgemerk waar dit in ‘n oop veld gelaat is en die owerhede in kennis gestel. Die egpaar se liggame is in die kattebak ontdek.
Monica Nyuswa, woordvoerder vir die NVG, sê Pretorius het tydens sy pleitooreenkoms aan die hof vertel dat die oorledenes hom op die betrokke dag van die moord by sy huis, wat hy gehuur het, besoek het waartydens hulle koffie gedrink het. Tydens die koffiedrinkery het daar ‘n argument ontstaan waarna hy beide met sy vuiste en ‘n flits aangerand het.
Hy het hulle liggame in die kattebak van hul voertuig gelaai, na ‘n veld naby die Bethaldam gery, waar hy die voertuig met die twee liggame steeds in die kattebak, gelos het. Daarna het hy waardevolle items – selfone, juwele en beursies – van die slagoffers geneem en van die toneel gevlug.
Die na-doodse ondersoek het bevind beide die oorledenes is dood as geval van beserings tydens die aanranding.
Pretorius het ‘n Seksie 105 A pleit-en-vonnis-ooreenkoms met die staat aangegaan waarvolgens hy ingestem het om skuldig te pleit op die twee moordklagtes.
Die hof kon geen faktore vind om die voorgeskrewe minimum vonnis op te lê nie en het Pretorius dus 15 jaar vir elke moordklag gevonnis, waarvan vyf jaar van die vonnis op die tweede klagte gelyktydig met die vonnis van die eerste klagte sal uitgedien word. Dit bring mee dat Pretorius 25 jaar effektiewe tronkstraf moet uitdien.
Bronne: NVG, Brig. Leonard Hlathi verklaring, Ridge Times Newspaper
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



