Die man wat sy eks-meisie in 2021 met ‘n mes voor hul driejarige dogtertjie doodgesteek het, het Dinsdag skuld beken. Hy is aangekla van moord en aanranding met die doel om ernstig te beseer.
Hy sou ook aanvanklik aangekla geword het van die beskadiging van Fourie se eiendom, maar die klag is deur die staat teruggetrek.
Christopher (Stoffie) Watson het Angelique Fourie op 7 November 2021 op Trichardt met ‘n mes doodgesteek.
Watson het Fourie agt keer met ‘n mes gesteek en nie 14 keer soos voorheen beweer is nie.
Nadat hy vir ‘n dag na die moord spoorloos verdwyn het, het hy homself kort daarna by die Norken-polisiekantoor in Kemptonpark oorgegee.
Watson het Fourie in haar huis in die Terra Nova-kompleks vermoor. Haar buurvrou het die aand gesien hoe haar woonstel aan die brand was en gaan ondersoek instel.
Fourie is op die vloer gevind met ‘n steekwond aan haar nek en merke aan haar lyf. Watson en Fourie was glo in ‘n argument betrokke voor haar dood. Hulle dogtertjie het ten tye van die moord by Fourie gebly.
Mike Bolhuis, privaat ondersoeker, het vroeër aan FiND iT gesê Watson het die aand van die moord hul dogter omstreeks 23:30 by sy suster in Secunda afgelaai. Die dogtertjie woon nou by haar ouma en oupa.
Watson het met sy hofverskyning Dinsdag ‘n tatoeëermerk op sy regterarm gehad met die woorde “RIPAngie” met ‘n kis met ‘n kruis binne-in.
Watson sal na verwagting Woensdag gevonnis word.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



