Gru-ongeluk bevestig wat almal weet: N18 moet vergroot en wetstoepassing verbeter

Deel hierdie storie / Share this story

Die afsterwe van ses mense in ’n botsing van voor die afgelope naweek onderstreep die gebrekkige toestand van die pad op tragiese wyse, sê die VF Plus, drie dae na die ongeluk wat Saterdagaand tussen Jan Kempdorp en Hartswater plaasgevind het.

Die pad moet nou opgradeer word, meen die VF Plus.

Twee van die drie meisies wat in die gru-ongeluk oorlede is, het aan die Noord-Wes-universiteit in Potchefstroom studeer.

Janke Coetzer (19) en haar vriendin Odine Swanepoel, asook Janke se jonger sussie, Lize (16), ‘n leerling aan die Hoërskool Diamantveld, is in ‘n ongeluk oorlede toe ‘n ander motor glo teen hulle vasgery het.

(Fotokrediet: Pretoria FM)

Martiné Degenaar en Albie Schutte was ook in die motor. Martiné en Albie is albei in Lenmed in Kimberley met beserings opgeneem.

Die pad waar die ongeluk plaasgevind het, is deel van die N18, wat Warrenton (aan die N12 tussen Johannesburg en Kaapstad oor Kimberley) met die Ramatlabana-grenspos en Botswana verbind. Dit vorm deel van die Trans-Afrika-hoofweg wat Kaapstad en Kaïro verbind.

“Buiten langafstandverkeer, is hierdie roete die hoofslagaar van die Vaalharts-besproeiingskema, een van die grootste en mees gekonsentreerde skemas in Suid-Afrika, sê die VF Plus.

“Swaar vragmotors wat stadig beweeg en sigbaarheid beperk, deel dus die pad met passasiersvoertuie wat vinniger beweeg.

“Op enkele aansluitings na, bestaan die pad uit een baan in elke rigting, sonder ’n noodbaan links van die geel streep. Die afwesigheid van sigbare wetstoepassing deur die Phokwane-verkeersafdeling vererger die probleem. 

“Dit is duidelik dat beplanners besef het dat verkeersdrukte ’n vergrote pad sou noodsaak. Die padreserwe en konstruksie van brûe bewys dat ’n dubbelpad in elke rigting beplan was. Tot dusver het dit nog nie werklikheid geword nie.

“Die Hartsvallei is een van die swaartepunte van die Noord-Kaapse ekonomie en regverdig ʼn belegging in infrastruktuur. Die vraag is hoeveel sterftes nodig is om die owerheid daarvan te oortuig.”