Die internet is aan die gons oor ‘n Twitter-gebruiker wat ‘n skermgreep van ‘n e-pos vanaf die dief wat sy skootrekenaar gesteel het, op sosiale media gedeel het.
Twitter-gebruiker @Zweli_Thixo het in ‘n plasing op Twitter gesê sy skootrekenaar is die vorige aand gesteel en dat hy die volgende dag ‘n e-pos, van sy eie e-posadres af, ontvang het as verskoning.
“Bro, howzit. Ek weet ek het gister jou skootrekenaar gesteel. Ek het die geld nodig gehad omdat ek sukkel om kop bo water te hou.
“Ek sien dat jy besig was met ‘n navorsingsprojek. Ek het dit hierby aangeheg en as daar enige ander dokumente is wat jy benodig, laat weet my voor 12:00 Maandag, ek het reeds ‘n koper.”
Twitter-gebruikers het Zweli aangemoedig om die dief ‘n bedrag geld aan te bied om sy skootrekenaar terug te kry.
Zweli het die dief aanvanklik R4 000 aangebied om sy skootrekenaar terug te kry, maar die dief het uiteindelik tot R5 000 ingestem. Die twee het mekaar Maandag om 12:00 iewers ontmoet, na Zweli die dief gerus moes stel dat hy hom nie in hegtenis sal laat neem nie.
In ‘n opvolgplasing het Zweli gesê dat hy die dief wel ontmoet het, maar dat dit ‘n lokval was.
“Dit was ‘n lokval. Hulle het my geslaan, die R5 000 en my selfoon gevat. As dit nie was vir die taxibestuurder wat gestop het toe hy gesien het wat gebeur nie, kon die situasie baie erger uitgedraai het. Moet nooit raad op die internet aanvaar nie.”
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.



